Rondom die wêreld in baie lande is Februarie bekend as die “Maand van Liefde”. Ek dink dat dit so ‘n mooi gedagte is om ‘n spesifieke tyd te hê om liefde te vier, nie te min dink ek ook dat ons dit daagliks moet doen, en by onsself moet begin.

Self-liefde. Wat beteken dit?

Een vertaling wat ek by Google gekry het en sommer vry in Afrikaans vertaal, som dit so op: “Self-liefde is ‘n toestand van self waardering deur aksies wat ons neem om ons fisies, siegies en geestelik te laat groei.

As ek die woord “self-liefde” sê, hoe laat dit jou voel? Wat is die eerste wat in jou gedagtes opkom?

Sinonieme waaraan ek onmiddelik dink as ek die woord hoor is iets soos selfsug en ek voel amper ‘n tipe van weerstand of ongemaklikheid in my, want ek het al van kindsbeen af gehoor en geleer dat ek ander altyd voor myself moet stel – dit is tog wat ‘n goeie mens doen, dit is tog wat ‘n vrou doen.

Vandag wil ek jou uitdaag om hierdie woord, self liefde, lank in die oë te kyk, en moenie wegkyk totdat jy dit met sagter oë wat regtig verstaan kan sien nie.

“Self love” wat so mooi, betekenisvol in Engels gesê kan word, is deesdae op almal se lippe. Natuurlik stem ons volkome met hierdie heerlike beweging saam want dit beteken mos behandelings by die spa, tyd alleen met ‘n koppie tee en ‘n boek, die koffie winkel met ‘n paar vriendinne, ‘n laaaaang bad met borrels en kerse!

Dit klink tog te mooi en lekker maar nog steeds êrens in my agterkop speel die deuntjie: ”Jy moet altyd ander voor jouself stel”. Dit gebeur dan dat ek die lekker dinge soos hierbo genoem êrens in my dagboek pas, wanneer ek ‘n uiteindelik ‘n tydjie kry.

Maar, is dit regtig self liefde? Hier bedoel ek nie die paar gesteelde uurtjies wat ek eenkant sit om iets wat ek geniet te doen nie, ek bedoel, is hierdie goedjies wat ek doen om te geniet, self liefde?

Dit is defnitief ‘n deel daarvan maar dit is meer “self-bederf” as self liefde..

Vir my is self liefde se defnisie – veranderwoordelik teenoor myself. Dit beteken dat ek verantwoordelikheid vir my lewe vat, vir alles areas van my lewe en om oop te wees om te leer en groei waar ek dit nog nie doen en dalk nog nie sien dat ek dit nie doen nie.

  • Verantwoordelikheid vir my gesondheid – nie om ander of idees slaafs te volg nie
  • Verantwoordelikheid vir my emosies – nie om te blameer en te kla nie
  • Verantwoordelikheid vir my verhoudings – nie om verwagtings te he waarvan ander nie bewus is nie
  • Verantwoordelikheid vir die grense wat ek stel – nie om die slagoffer te wees nie
  • Verantwoordelikheid oor hoe ek my geld hanteer, verantwoordelikheid oor watter werk ek doen en hoe ek dit doen, verantwoordelikheid vir my houding, verantwoordelikheid vir wat ek dink en sê,  verantwoordelikheid vir my groei en ontwikkeling.

Self liefde is gelyk aan verantwoordelikheid, want as jy verantwoordelikheid vir jou eie lewe neem, gebeur dinge nie net met jou nie. Jy het keuses wat jy kan maak wat vir jou werk. En wanneer dinge met jou gebeur wat buite jou beheer is, soos dit gereeld die geval is, het jy nog steeds die verantwoordelikheid om te besluit hoe jy daaroor voel, hoe jy daarop gaan reageer en wat jy daarmee gaan doen.

Verantwoordelikheid vir jou lewe neem, gee vir jou rustigheid, vrede, vreugde, vryheid en dit is liefde. Liefde wat jy vir jouself eerste het en wat jy dan soos ‘n borrende fontein in oorvloed met ander kan deel. Dan kom al die self bederf natuurlike by want jy neem verantwoordelikheid om vir jouself tyd te maak waar jy verfris en hernu word.

UITDAGING:
  Vra vir jouself of jy verantwoordelikheid neem vir jou eie gesondheid en antwoord jouself ook eerlik. vind jy self uit oor wat goed en reg is om te eet en doen?kyk jy op die oomblik so na jou gesondheid dat jy in later jare  lewenskragtig kan lewe?volg jy ander se idees of die nuuste “fix it all now” oplossings slaafs na of vra jy vrae wat vir jouself insig sal en bewustheid sal bring vir wat regtig vir jou werk?   Dit is nooit te laat om te begin nie. Ek sal jou oor en oor herrinder hoe wonderlik ondersteuned jou liggaam is om jou gesond te wil maak en hou – en die beste nuus van alles is dat jou liggaam net JOU verantwoordelikheid is. Neem dit!